Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 18 DESEMBER 2011

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTELS

Dit is met leedwese dat aangekondig moet word dat die sleutels van twee radioamateurs stil geraak het.

Die van Ray Langton, ZS6EJ, het op 2 November 2011 stil geraak.
Die sleutel van Andries van Wyk, ZS6CEG, het op 9 Desember stil geraak.

Ons innige meegevoel aan die familie en vriende van die oorledenes.

(POUSE)

In die nuus vandag:

TRANSATLANTIESE AMATEURRADIOBALLON IN VLUG

RUSSIESE MILITÊRE OFDM AKTIEF OP 40 METER

RADIOTEGTNOLOGIE IN AKSIE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

TRANSATLANTIESE AMATEURRADIOBALLON IN VLUG

'n Amateurradioballon wat uit die Verenigde State in die rigting van Europa met APRS aan boord die lug in is, het dit oor die Atlantiese oseaan gemaak.

Ron Meadows, K6RPT, van die Kaliforniese Naby Ruimteprojek het vier hoëhoogte balonne om 00:00 UTC op Maandag 12 Desember gelanseer. Dit was verwag dat die ballonne iewers in die middeweste van die VSA na die grond sal terugkeer, maar een wat hom per APRS as K6RPT identifiseer, het besluit om 'n vaart per straalstroom te onderneem.

Na agterlating van die VSA-grond oor New Jersey op 'n hoogte van 110 000 voet, het dit die Atlantiese oseaan oornag oorgesteek en is radioamateurs in Suid-Europa gevra om op 144,390 MHz, die kanaal wat in die VSA vir APRS gebruik word, te luister en om te help om die pad van K6RPT-11 oor Europa vas te stel.

Die vraag was waar sou dit land? Die antwoord het vroeg die oggend van 14 Desember gekom. Teen daardie tyd was die ballon oor die Alboransee in die Middellandse see toe APRS-volging aangedui het dat dit vinnig hoogte verloor. Die laaste verslag via EB6AOK het dit aangedui op 14 558 voet en met 'n spoed van 35 myl per uur. Dit is aanvaar dat dit op daardie stadium in die see geval het nadat dit op 'n hoogte van 100 000 voet (30 500 m) meer as 7 000 landmyl (11 200 km) afgelê het.

Wat nie algemeen bekend is nie, is dat eksperimente eerste in Suid-Afrika onderneem is deur 'n groot span radioamateurs wat gelei is deur Tony Reumerman, ZS6AOG, John Willescroft, ZS6EF, en Dave Woodhall, ZS6BNT. Toentertyd het ZS6AKV 'n aanbieding by 'n AMSAT-konferensie in die VSA gedoen wat die bal in ander lande aan die rol gesit het.

RUSSIESE MILITÊRE OFDM AKTIEF OP 40 METER

Die nuusbrief van die IARU se moniteringstelsel het gerapporteer dat die Russiese militêre op 7 000,8 kHz uitsaai deur gebruik van OFDM 112 kodering. Dit blyk of die sender wat die ongevraagde geraas uitsaai naby die stad Severomorsk geleë is.

Die Russe is egter nie alleen in die 40 m-band nie. Die IARU rapporteer ook dat Sjinese oor-die-horison radar verskeie kere gedurende die aande sy verskyning op 7 MHz gemaak het. Dit beset partykeer soveel as 280 kHz spektrum en is gehoor tot by 7 040 kHz met gebruik van die welbekende veegfrekwensie van 43,5 veë per sekonde.

Verslae van Suid-Afrikaanse radioamateurs word ingewag. Stuur dit asb. aan ZS1FCS, sy e-posadres is zs1fcs@telkomsa.net.

RADIOTEGTNOLOGIE IN AKSIE

Die SARL rig 'n uitnodiging vir aanbiedings vir die Radiotegnologie-in-Aksie-Simposiums wat in Kaapstad, Port Elizabeth, Durban en Gauteng staan gehou te word. Stuur asb. 'n kort opsomming teen 15 Januarie 2012 aan artoday@sarl.org.za. Bystand met reisuitgawes is moontlik indien benodig. Die SARL versoek ook menings oor die soort van onderwerp waaroor u graag meer sal wil leer. Dit is u kans om 'n invloed op die program uit te oefen.

SA AMSAT RUIMTESIMPOSIUM

Die 2012 Ruimtesimposium van SA AMSAT sal op 12 Mei 2012 by die Universiteit VA KwaZulu-Natal aangebied word. Hierdie is die tweede uitnodiging vir aanbiedings. Outeurs word uitgenooi om 'n kort opsomming van hulle voorgestelde aanbiedings in te dien. Die einddatum daarvoor is 31 Januarie 2012. Stuur die opsomming as 'n aanhangsel in 'n Woord-formaat aan saamsat@intekom.co.za. Die tema van die konferensie is '50 Jaar van Amateurradiosatelliete' om die lansering van OSCAR 1 op 12 Desember 1961 te herdenk.

VOORGESTELDE AMATEUR MF-TOEKENNING ONTVANG 'N HUPSTOOT

Die voorstel om by die Wêreld Radio-konferensie in 2012 'n deel van die mediumfrekwensieband aan die amateurdiens toe te ken, het hierdie week 'n hupstoot gekry met die vrystelling van die Asië-Stille Oseaan Gemeenskaplike Voorstelle wat ontwikkel is by die 5de Vergadering van die APT Konferensie Voorbereidende Groep vir WRC-12.

Tydens hierdie vergadering het die verskillende nasies van die Asië-Stille Oseaan-streek baie van die kwessies wat by WRC12 gaan dien, bespreek en het hulle gepoog om 'n plaaslike konsensusstandpunt te bereik.

Die voorstel van belang vir die amateurdiens is 'om 'n toekenning van ongeveer 15 kHz te oorweeg in gedeeltes van die 415 - 526,5 kHz band vir die amateurdiens op' n sekondêre basis, met inagneming van die noodsaaklikheid om bestaande dienste te beskerm', en die voorstel is ondersteun deur 'n gemaklike meerderheid van die Asië-Stille Oseaan administrasies as reaksie op die uitnodiging om te stem. Die suksesvolle ontwikkeling van 'n plaaslike standpunt ter ondersteuning van 'n amateur MF-toekenning verhoog die kanse dat die voorstel op WRC-12 aanvaar sal word.

Die amateurradiodiens is by die APT-vergaderings deur afgevaardigdes van Streek 3 van die Internasionale Amateurradiounie en deur lede van die nasionale amateurradio-organisasies, wat deel is van afvaardigings van elke nasionale regering, verteenwoordig.

KOMPETISIENUUS

SARL Nasionale Velddag
Die komitee het 13 logstate ontvang wat bestaan uit 11 kompetisielogs en 2 kontrolelogs. Die 13 logstate dui aan dat 210 Suid-Afrikaanse radioamateurs aan die kompetisie deelgeneem het, dit is onseker wat van die ander 197 logstate geword het.

Die wenners van die onderskeie klasse is:

Klas A - Veldstasie, Multi-operateur
1ste Wesrand ARK, ZS6WR, 91 200 punte
2de Noordkaap ARK, ZS3NC, 64 800 punte
3de Sasolburg ARK, ZS4SRK, 40 320 punte

Klas B - Veldstasie, Multi-operateur - QRP Geen inskrywings nie

Klas C - Veldstasie, Enkel-operateur
1ste Mitchell Mynhardt, ZS6YH, 32 352 punte 2de Marius Snyman, ZR6MS, 16 380 punte

Klas D - Veldstasie, Enkel-operateur - QRP 1st Eddie Leighton, ZS6BNE, 10 476 punte 2nd Dennis Green, ZS4BS/3, 2 880 punte

Klas E - Algemene Stasies
1ste Pieter Jacobs, ZS6XT, 23 160 punte

Kontrole logstate is ontvang van Pierre van Deventer, ZS6A, en Alan McCulloch, ZS6KU. Die Wesrand ARK-stasie het op 15 en 10 meter baie punte met digitale kontakte gemaak.

Die gekombineerde uitslae vir die Februarie- en Novemberbene van die Nasionale Velddag is:

Klas A - Veldstasie, Multi-operateur
1ste Wesrand ARK, ZS6WR, 187 800 punte
2de Noordkaap ARK, ZS3NC, 150 480 punte
3de Sasolburg ARK, ZS4SRK, 99 720 punte

Klas B - Veldstasie, Multi-operateur - QRP Geen inskrywings nie

Klas C - Veldstasie, Enkel-operateur
1ste Wessie Wessels, ZS2A, 43 200 punte
2de Pierre van Deventer, ZS6A, 40 560 punte 3de Mitchell Mynhardt, ZS6YH, 32 352 punte

Klas D - Veldstasie, Enkel-operateur - QRP 1ste Geoffery Lotz, ZR6XZ, 56 160 punte 2de Eddie Leighton, ZS6BNE, 21 186 punte 3de Dennis Green, ZS4BS/3, 2 880 punte

Klas E - Algemene Stasies
1ste Pieter Jacobs, ZS6XT, 60 660 punte
2de Derek Stuart, ZS2J, 9 360 punte
3de Renier Burger, ZU6HOT, 7 236 punte (nou ZS6HOT)

Wel gedaan aan almal wat 'n logstaat ingestuur het en geluk aan die klaswenners. Die volledige uitslae is beskikbaar in HF Happenings 483. Die Februariebeen van die 2012 SARL Nasionale Velddag word beplan vir die naweek van 11 en 12 Februarie 2012.

LEN WELLS AMTEURGEESTROFEE

Die Len Wells Amateurgeestrofee van die Valsbaai Elektronika- en Rekenaarklub is tydens die jaareindfunksie van die klub op Saterdag 10 Desember aan Tom Cooper, ZS1PS, toegeken. Tom was vir baie jare 'n toegewyde werker vir die klub, is 'n komiteelid en ook redakteur van die tak se nuusbrief DIALOG. Ten spyte daarvan dat hy 'n groot K-oorlewende is, het hy baie naweke gebruik om die klubhuis te bou. Tom is 80 jaar oud en spog met 60 jaar ononderbroke lidmaatskap van die SARL.

Dit is nou werklike amateurgees! Veels geluk Tom en mag jy nog vir baie jare amateurradio geniet.

PORT ELIZABETH AMATEURS KYK UIT VIR KUSLANGSE BHF DX

BHF-amateurs in Port Elizabeth is op die uitkyk na die BHF-vakansiegangers langs die Oos- en Suidkuste van Suid-Afrika. Hulle weet dat 'n aantal amateurs hulle vakansies aan die kus gaan deurbring en dat van hulle BHF-toerusting met hulle saamneem, soos Rassie, ZS1YT en Derek, ZS5Y, wat aan die suidelike kus gaan vakansie hou.

Sommige plaaslike amateurs gaan die suidelike kus monitor terwyl ander die oostelike kus gaan dophou en hulle gaan mekaar in kennis stel van enige seine wat opgespoor word. Die roep- en luisterskedules sal saans tussen 19:00 en 20:00 SAT op 144,400 MHz, FM wees en na 20:00 SAT op 144,200 MHz HSB wees. Op warm vogtige dae kan fantastiese tropo-openinge voorkom.

Aangesien al die plaaslike BHF-amateurs se seine horisontaal gepolariseerd is en sommige oor hoëwins Yagis beskik, is die minimum vereiste aan die ander kant van die BHF-pad minstens 'n horisontale dipool. Die amateurs met lang Yagis sal opmaak vir die tekort aan antennawins aan die ander kant en kontakte vêrder as 400 km kan verwag word.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonaktiwiteit besig is om af te neem en dat daar nie sonfakkels gedurende die week verwag word nie.

Verder is die son se oppervlakte oortrek met kleiner sonvlekke wat gunstige HF-toestande verseker.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings doen, is die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week ongeveer 83.

20 tot 10 m gaan pret wees met verskeie openinge gedurende die verloop van die dag. Die hoër bande sal tipies eerste oopmaak om dan later deur die laer bande gevolg te word. 6 m is ook aktief met goeie TEP openinge van tyd tot tyd.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

15 Januarie 2012 - Laaste dag vir indiening van voorgestelde aanbiedings vir Radiotegnologie-in-Aksie-Simposiums 2012 na artoday@sarl.org.za.
31 Januarie 2012 - Laaste dag vir insending van nominasies vir SARL-Raadslede en mosies vir die SARL se AJV in 2012.
31 Januarie 2012 - Sluitingsdatum vir insending van voorgestelde verhandelings vir SA AMSAT se Ruimtesimposium aan saamsat@intekom.co.za.
Onthou ook om nominasies in te stuur vir die SARL-toekennings wat gedoen sal word tydens die galadinee wat ook gedurende die naweek met die 2012 SARL-AJV sal plaasvind.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio TODAY', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 16:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur George, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Ten einde u inskrywing op hierdie subskripsielys te verander of dit daarvan te verwyder, gaan na www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003